Die Afriklok-reeks bestaan uit ‘n paar modelle, vanaf ‘n vaste model tot ‘n vol-draagbare en robuuste model vir veldgebruik.
Die klok-aksie vind met Dallas-drukknoppies (“i-buttons”) plaas en klokdata word intern gestoor – die vaste klok het verwyderbare datastokkies wat kantoor toe gestuur word, terwyl die draagbare modelle self kantoor toe gestuur moet word vir aflaai-doeleindes.
Suksesvolle klok-aksies word deur die instrument aangedui met ‘n vertoning van naam, datum en tyd (slegs modelle met skerm toegerus) asook ‘n groen liggie en ‘n biep-geluid. Die skerm word na ‘n paar sekondes afgeskakel om die batteryleeftyd te verleng.
Die klokke kan 7932 transaksies berg (100 werkers wat vier maal per dag klok produseer 2400 transaksies per ses-dag week.). Herhaalde transaksies word nie geberg nie, ten einde nie met spasie te mors nie.
Die klok word periodiek (verkieslik weekliks) afgelaai en data verwerk – hierdie benadering beteken dat maandeindes minder spanningsvol is, omdat daar dan net een week se data verwerk moet word.
Die klok-instrumente kan 120 werkername vertoon, maar kan wel ‘n baie groter getal werkers hanteer, hoewel dit dan slegs die drukknoppie-nommer sal vertoon. Die klokdata sal wel in alle ander opsigte korrek vertoon word. Ons beveel wel aan dat daar onder normale omstandighede nie veel meer as 120 werkers per klok moet wees nie, ten einde stormlope met in- en uitklok te vermy.
SPESIFIEKE VOORDELE:
- Normaalweg benodig die instrumente geen onderhoud buiten periodieke battery-vervanging nie. Met die gebruik van die aanbevole AA-grootte alkaliese selle, kan u ‘n batteryleeftyd van minstens 6 tot 12 maande verwag;
- Die instrumente is nie vatbaar vir kragonderbrekings nie – hulle werk heeltemal onafhanklik van netwerk-krag;
- Die instrumente is nie vatbaar vir weerligskade nie – geen kabelwerk nie;
- Kan min of meer oral gebruik word, selfs in voertuie en afgeleë terreinkantore;
- Die sagteware is eenvoudig, kan in beide Afrikaans en Engels gebruik word, en word in beide Afrikaans en Engels ondersteun;
- Modulêre ontwerp: Alle elektronika is in verwyderbare modules ingebou en kan op terrein deur die gebruiker uitgeruil word indien nodig;
- Drukknoppies is ‘n goedkoop, betroubare en robuuste metode van klok, en kan hergebruik word vir nuwe werkers.
- Kragvoorsiening is deur middel van algemeen beskikbare alkaliese selle (AA- of penflits-grootte, Duracell, Energizer of Camelion aanbeveel).
VOORBEELDE:
Vaste klok (AF1)
Standaard draagbare klok (AP1)
Robuuste draagbare klok (AP2)
Oorlaaistasie (DOCK)
Drukknoppieleser (READER)
Dallas drukknoppies (BUT)